Hoërskool Bekker

Afrikatromme en Sêr

Hoërskool Bekker bied Afrikatromme en Sêr as ‘n gekombineerde kultuuraktiwiteit aan.  Leerders word bekendgestel aan Afrikaritmes en -musiek regoor Afrika waar hul die ritmes saam met sang op tromme uitvoer. Woensdaemiddae is ons kultuurdae wanneer ons byeenkom om nie net hard te werk nie, maar om ook pret te hê.  Die span tree by die skool op tydens kultuurfunksies en gaan ook begin om tydens Rugby- en Netbalwedstryde spanne aan te moedig met geesvang.  Die span gaan ook aan kultuurwedstryde deelneem: RACA, wat deur Randfontein High School aangebied word, ons eie trotse Bekkerkunstefees, NEA Nasionale Eisteddfod en Tshwane Jeugkunstefees waar skole regoor Suid-Afrika deelneem. Dit is spoggeleenthede waar net die beste kultuurgroepe op die verhoog uitblink.

 

Bekker Christelike Organisasie

BCO fokus daarop om gesonde, betekenisvolle verhoudings met mede Christene te kweek terwyl jy as Christen in jou eie verhouding met God groei. In hierdie moeilike en onsekere tye is BCO ‘n veilige hawe waar ons lofprysing geniet, mekaar bedien en na die gemeenskap uitreik.

 

BEKREK – Uit die perd se bek

Die skoolkoerant, die Bekrek, publiseer inhoud rakende Bekker leerders en hul aktiwiteite en prestasies binne- en buite skoolverband. Hierdie span is ook verantwoordelik vir die jaarboek.

Ons moedig graag ons leerders aan om hul kreatiwiteit, joernalistiek, fotografie en spotprentkuns ten toon te stel.

 

Drama

Weeklikse dramalesse is beskikbaar, waar ons leerders hulle toneelvaardighede kan ontwikkel en as jong akteurs kan groei. Groot produksies soos Beauty and the Beast, Wizard of Oz en Grease the Play, is voorheen deur ons leerders met luide applous en komplimente van ons gehore opgevoer. Ons is baie opgewonde om later hierdie jaar aan die Allegretto Nasionale Eisteddfod deel te neem.

 

Kunstefees

By Bekker bevorder ons kuns in alle vorme. Ons moedig leerders aan om deel te neem en betrokke te raak by ons jaarlikse Kunstefees wat gewoonlik in Mei aangebied word. Die Fees groei sedert 2017 en lok jaarliks meer as 200 deelnemers. Die Kunstefees stel ’n platform daar vir ons leerders, waar hulle kan deelneem aan

die kunste en hulle kreatiewe talente kan ontwikkel en uitleef. Kategorieë sluit die uitvoerende sowel as skeppende kunste in: Kreatiewe Skryfwerk, fotografie en kunsvlyt. Hierdie jaar stel ons ‘n nuwe kategorie bekend, naamlik verhooggrimering.

 

Landsdiens

Landsdiens is ‘n beweging wat op 4 pilare berus. Die 4 pilare in landsdiens is:

  1. Liefde vir God
  2. Liefde vir die Natuur
  3. Liefde vir jouself / medemens
  4. Arbeidsaamheid

By Hoërskool Bekker kweek ons by die kinders ‘n passie om liefde vir God, die natuur en ander mense te hê.

 

Mnr. en Mej. Bekker Skoonheidskompetisie

Mnr. en Mej. Bekker is nie net ‘n skoonheidskompetisie nie, dit is ‘n geleentheid vir ons leerders om deel te neem aan gemeenskapsinisiatiewe. Dit is ‘n manier waarop ons skool uitreik na ons gemeenskap op ‘n positiewe en opwindende manier. Die leerders neem deel aan onderhoude, fotosessies en ‘n finale gala-aand op die verhoog. Ons beoordeelaars kies die beste ambassadeur vir Hoërskool Bekker.

 

 

Redenaars

‘n Jaarlikse geleentheid wat intelligente jongmense bymekaarbring om hul vryheid van spraak uit te oefen. Redenaars is een van die belangrikste vaardighede in ons samelewing. Dit stel leerders in staat om op hoё akademiese vlakke te presteer en word hoogs aanbeveel. By Bekker moedig ons kritiese denke aan wat jongmense op verskillende sosiale platforms laat optree. Ons is trots om dinamiese jongmense te ontwikkel om grense met innoverende idees te skuif. Dit is waar briljante jong mense saam kom en die kollig geniet.

 

Skaak

Skaak word aangebied as ‘n individuele- en spansport.

Daar is verskeie toernooie deur die jaar waar skaakspelers individueel kan deelneem. Die individuele toernooie vind plaas as ‘n opetoernooi waar verskillende ouderdomme teen mekaar speel of as ‘n toernooi waar die speler in ‘n bepaalde ouderdomsgroep deelneem.

As ‘n span speel skole in die Wesrand teen mekaar op ‘n bepaalde dag en ook in die Super 14-reeks. Die spankompetisies is sedert die pandemie op ys gehou, maar terwyl ons wag, neem ons aan die individuele toernooie wat reeds plaasvind, deel.

 

Sweepklap

Sweepklap is ‘n nuwe aktiwiteit by Hoërskool Bekker.  As jy dink dis maklik, kom probeer gerus! ‘n Kuns van ‘n ander soort.